Seker tyd dat ek weer aandag aan my blog skenk... My nuutste tydverdryf? Digital scrapbooking! So here goes..
Showing posts with label Bybel. Show all posts
Showing posts with label Bybel. Show all posts

Tuesday, June 5, 2007

God se oogappel....

In Psalm 17:8 sê Dawid: "Beskerm my soos die appel van u oog" (1983 vertaling)

Ek het 'n Bybelstudie boekie (Die Psalms sing van Christus), wat elke Psalm in 'n dagstukkie bespreek. In die stukkie oor Ps 17, is die fokus op vers 8.



Die skrywer wonder waarom Dawid nie liewer sê "Beskerm my soos u hart" nie - die hart het 'n sterk borsbeen en ribbekas as beskerming. Of "Beskerm my soos u brein" nie - die brein het 'n stewige skedel om dit te beskerm.







Nou sê Dawid juis " Beskerm my soos die appel van u oog". Een van die sensitiefste en kwesbaarste organe in die liggaam.

Maar as mens mooi daaroor dink, is daar verskeie beskermingsmeganismes wat die oog beskerm midde in 'n gevaarlike omgewing. Daar is die reëlmatige knip om dit weer te bevogtig, trane om skoon te was, pupille wat kleiner word om skerp lig uit te hou en die sterk oogkaste.

Dan kan mens verstaan waarom Dawid juis vra om soos 'n oogappel beskerm te word - ons as Christene word nie uitgesluit van die wêreld nie. Ons staan tussen al die versoekings en dwalinge en heidene. Juis binne in hierdie omgewing het ons God se krag en beskerming nodig.

Soos 'n oogknip, kan ons ons ook tydelik afsluit van al die aanslae, en stil word saam met God. Soos trane die oog skoonwas, het Jesus se bloed aan die kruis ons skoongewas van ons sondes. Soos 'n pupil klein word in skerp lig, moet God se heerlikheid soos 'n skerp lig skyn in ons lewens terwyl ons klein word in nederigheid voor Hom. En soos die oogkas die oog beskerm, is God ook rondom ons om ons te beskerm.

Watter heerlike troos en bemoediging!!

Monday, March 5, 2007

Ps 104

Ek het gisteraand met verwondering weer Ps 104 ontdek.
Wanneer laas het ons weer waarlik die natuur waardeer as God se skepping?
Besef dat God alles so liefdevol geskep het, en steeds onderhou?
En besef presies hoe afhanklik ons van God is vir ons daaglikse voortbestaan...?


Lees weer Ps 104 en let op na die psalmdigter se waarnemings... Kry mens nie die prentjie van 'n volmaakte, dankbare skepping nie? Dit laat mens nogal rustig word... en dink...

Hier is Ps 104 in die 1983 vertaling:

1 Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister,
2 U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan
3 en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind,
4 U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars,
5 U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.
6 Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan.
7 Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8 Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9 U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie.




10 U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom.









11 Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les.




12 Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke.



13 Uit die hemel laat U dit op die berge reën, die aarde word versadig deur die reën wat U gee.




14 U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15 wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee.







16 Die bome van die Here kry volop reën, die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,




17 waar die voëls hulle neste maak, en die reier sy huis in die boomtoppe bou.










18 Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dassies.





19 U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan.




20 As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos.



21 Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God.
22 As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke.

23 Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.

24
U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.
25 Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot.
26 Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan. U het hom gemaak om mee te speel.
27 Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd.

28 U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
29 Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof.
30 U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.

31
Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32 Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe, wat die berge aanraak, en hulle brand.
33 Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34 Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees! Ek wil my in die Here verbly.
35 Mag die sondaars van die aarde af verdwyn, mag die goddeloses ophou om te bestaan! Ek wil die Here loof. Prys die Here!



Dan kan ons ook opreg saam met Nina Smit bid:

"Here, ek wil U loof as die Skepper-God.

Hoe goed en mooi is alles wat U gemaak het,

hoe ongelooflik en vol verskeidenheid u handewerk -

sodat ek in elkeen van U skeppings en skepsels u heerlikheid kan raaksien
en U daardeur met my kan hoor praat.
Gee vir my die vermoë om my oë en ore oop te hou vir U stem,

om fyn te luister en om nooit aan die skoonheid van die natuur gewoond te raak nie,

maar dit elke dag opnuut te ontdek.

Dit laat my verstand duisel dat ék die kroon van daardie skepping is

omdat U 'n stukkie van Uself in my ingebou het.
Maak my absoluut gehoorsaam aan U,

gewillig om U te dien so lank as wat ek leef

en help my om U bo alles lief te hê.
Amen."

Tuesday, February 13, 2007

Die gevreesde V-dag...

Valentynsdag...

In baie lewens 'n gevreesde, selfs gehate dag dag.

Maar miskien is dit tyd dat ons so bietjie van romantiese liefde vergeet en dink aan liefde in die algemeen. Ek't 'n paar mooi dinge raakgeloop, waaroor ons almal gerus 'n bietjie kan besin...



~Dalk 'n weergawe van 1 Kor. 13? ~

Liefde is 'n stille verstaan, 'n wedersydse vertroue, 'n deel met mekaar en vergifnis.

Dit is getrouheid deur goeie en slegte tye.

Dit is met minder as die prefekte tevrede en maak voorsiening vir menslike swakhede.
Dit is tevrede met die hede en het hoop vir die toekoms, maar dit broei nie oor die verlede nie

Dit is 'n daaglikse geskiedenis van irritasies, probleme, kompromieë, klein teleurstellings, groot oorwinnings en werk na gemeenskaplike doelstellings.

As jy liefde in jou lewe het, kan die liefde vergoed vir baie ander dinge waarin jy te kort skiet.

As jy die liefde nié het nie, kan jy alle ander dinge hê, maar dit sal nie genoeg wees nie.

~Anoniem~

Nog 'n weergawe van 1 Kor. 13

Al sal ekkie tale van mense en van ingelse praat,
ma ek het nou die liefde geloop geryl virrie haat,
dan het ek 'n raaslike paraffienblik gestaat raak.

Al was ek so slim lat ek niewe goeterse kan maak,
ma ek het die Jirre se liefde byte innie son gelat lê,
dan is ek niks, hoor wat ek hierie vedag vir jou sê.

Al gjee ek my hele bokke weg, net om te die ag te hê,
dan sal al hierdie dinge my nog niks gepetaal hettie
as ekkie die liefde ytie jimmel yt kan geloop haal hettie.

Die regtige liefde die se bek is noot nie dikkie,
jy sien hommie skinner en jy hoor hommie klikkie,
hy skrywe die kwaad okkie in boekietjiese oppie.

... Die liefde maak alles mooi toe met hy se sawwe karos.
Tale die hou op, voorspellingse vedwyn en woorde raak los,
ma liefde die sal nou tot by ewageit toe net so bly staat.
En nou is dit die geloof ennie hoop ennie liefde wat bly staat,
ma nettie liefde sal saam met my narie Jirre se jimmel toe gaan.

~Hans du Plessis~


~Charlotte van Schiller~

Jou foute sal ek verstaan.

Liefhê is tog nie om vir jou 'n droombeeld te skep van 'n perfekte wese en dié dan jou geliefde te noem nie.

Veeleer is liefde dit: om mense lief te hê soos hulle is; om hulle swakhede en foute te aanvaar met 'n hart wat daarvoor ruimte maak.

Monday, February 5, 2007

Gebed van Franciscus van Assisi

Here, maak my 'n werktuig van u vrede
sodat ek liefde sal beoefen waar mense mekaar haat;
sodat ek wonde sal verbind waar mense mekaar seermaak;
sodat ek vergifnis sal bewerk waar daar stryd is;
sodat ek die waarheid sal praat waar leuens heers;
sodat ek hoop sal bring waar duisternis oorgeneem het;
sodat ek vreugde sal bring waar leed woon.

Here, leer my on nie soseer getroos te wil word nie,
maar om ander te troos;
om nie soseer begryp te wil word nie
as om ander te probeer begryp;
om minder na liefde te soek as om dit te gee.
Want hulle wat gee, ontvang;
dié wat nie vir hulself vra nie, kry;
vir hulle wat vergeef, word baie vergewe.
En dié wat aan hulself sterf, ontwaak tot die ewige lewe.

Tuesday, January 23, 2007

Twee ietsies om 'n oggend mee af te skop


~'n Gebed deur Jörg Zink~

"Here, ek is vanmôre vrolik.
Die voëls en die engele sing, en ek jubel ook.
Die heelal en my hart is oop vir u genade.
Ek voel my liggaam en ek dank U.
Die son skyn op my, dankie daarvoor.
Die see spoel oor die strand, dankie daarvoor.
Die skuimwater klots teen ons huis, dankie daarvoor."



~Ps143:8~

Laat my elke môre U liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.
Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig."

Jy kan die gawe van God se liefde net behoorlik genietop die pad wat Hy vir jou aanwys.

Met die "kospakkie" van God se liefde en die "padkaart" van sy Woord kan elke dag net 'n avontuurlike reis wees.
(Dankie Mia...)

Sunday, January 21, 2007

Talente

Vandag het die dominee 'n interessante ding gesê...

Die teksvers was uit die gelykenis van die muntstukke. Mattheus 25:15 - "Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee..."

Dit voel altyd vir ons asof die slawe wat 5 en 2 muntstukke elk gekry het, so baie gekry het in vergelyking met die arme slaaf wat net 1 muntstuk gekry het.

Maar mens kan nou die situasie uit 'n ander oog bekyk. 'n Goue muntstuk (talent) was in daardie dae ongelooflik baie geld (ongeveer 7 000 dinarii). Dit sou 'n gewone dagloner omtrent 20 jaar neem om die ekwivalent van 'n talent bymekaar te maak. In vandag se terme, as jy R50 per dag verdien, sou 'n talent omtrent R240 000 wees - glad nie 'n klein sommetjie nie!!

M.a.w., selfs al voel ons somtyds soos die slaaf wat net 1 ou muntstukkie gekry het, moet ons onthou dat dit opsigself reeds 'n groot seën en verantwoordelikheid is!!

Ons kan dankbaar wees vir so baie dinge - kos, klere, huise, werk, verstand, gesondheid, asem, familie, vriende, die vermoë om te kan hoor, sien, voel, praat, ens. Die lys is amper eindeloos.

Al hierdie dinge het ons ontvang om mee te woeker en te werk tot eer van die Here!

Thursday, January 18, 2007

Ek is wonderbaar, want...

(Uit Finesse Dagboek 2007, deur Amelia Meiring)

Psalm 139:14 - "Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering."

Hoe sien jy jouself?

Wonderbaar?

Sommer so gemaak en so laat staan?

Dìt alles is wonde wat ons onsself toegedien het a.g.v. seerkry en teleurstellings in die lewe.


Baie vroue heg vandag geen waarde aan hulleself nie, omdat hulle na ander kyk om 'n standaard vir hulleself vas te stel. En dit is juis wat ons nié moet doen nie.


Die goeie nuus is dat ek en jy 'n oorspronklike ontwerp is van die groot Ontwerper self. Ons is beslis nie 'n goedkoop namaaksel of afdruk van iemand anders nie. Wow!


Liewe vrou van God, God het beslis geweet wat Hy wou maak toe Hy jou in gedagte gehad het. Kies daarom vandag God se merk op jou.


Glo dat jy spesiaal is.


Weier enige ander seerkrymerke op jou.


Laat jou lelike dag verander in 'n sonnige dag.


Laat jou wandel met Jesus jou lei van gebondenheid tot vryheid, van depressie na vreugde.


Laat die gisters agter jou en trek jou aan met die môres van Jesus se volmaaktheid.

Saturday, January 13, 2007

Bemoediging

Nog 'n Bybelvers wat my al menigmaal bemoedig het, is Jesaja 41:10:

"Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God... Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou."

Friday, January 12, 2007

Gedagte vir vandag...


Jeremia 29:11: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee."


- 'n Wonderlike manier om die nuwe jaar in te gaan!

Thursday, January 11, 2007

Veldblomme


Toe ek vanoggend werk toe ry, kyk ek na die pragtige sonneblomme langs die pad. En toe herinner dit my aan Mattheus 6:28-39:

"28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.
29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.
30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?"
En net daar het ek besef hoeveel 'n mens het om voor dankbaar te wees!